‘n Nota van ons Redakteur: Jessica se getuienis van haar persoonlike ervaring rondom vergifnis het regtig die krag om moed oor te dra aan die leser. Vergifnis is die sleutel tot ons vryheid. Dit is ook belangrik om te onthou dat die vyand kom om te steel, slag en verwoes. Ons geveg is nie teen vlees en bloed nie. Elke keer wanneer ons die keuse maak om te vergewe, word ons deel van oplossing – deel van wat Christus vir ons kom sterf het voor.

Om te vergewe soos die Here. Hoe doen mens dit? Is dit ooit moontlik?

Om ander te vergewe wat jou seer gemaak het of te na gekom het, is seker die moeilikste ding om te doen.

Onvergifnis is soos ‘n tronk waarin mens sit. Mens word bitter en kwaad as mens daar opgesluit is. Op die ou end, vernietig dit jou menswees. Daar is wel goeie nuus. Daar is ‘n sleutel wat die tronk se deur kan oopsluit. Die sleutel gee mens vryheid. Die sleutel se naam is vergifnis.

Matteus 18:21-22

“Daarop kom vra Petrus Hom, ‘Here, hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?’ ‘Nee,’ verseker Jesus hom, ‘nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe!”

Ek deel so stukkie van my getuienis vandag. Dalk help dit jou om vergifnis beter te verstaan en die moed bymekaar te kry om self te vergewe.

Toe ek elf jaar oud was, het my neef my verkrag. Op daardie ouderdom is mens maar nog dom wat sulke goed aanbetref. My ma het my een keer by ‘n sielkundige gehad en dis waar dit gebly het. Met die gevolg dat ek dit uit geblok het. Ek het nooit deur daardie gevoelens gewerk nie en het ook nie geweet wat onvergifnis besig was om aan my te doen nie.

‘n Paar jaar in my huwelik in, begin ek angs ervaar elke keer as ons intiem verkeer het. Selfs net wanneer my man aan my wou raak, het ek onbewustelik weg getrek en in die proses hom affekteer. Ons is vir hulp en ek kon met daardie emosies werk, maar ‘iets’ het my steeds terug gehou.

‘n Vriendin nooi my toe na ‘n Vrouekamp waar die spreker gesels het oor vergifnis. Hy het die storie vertel van die liedjie “Tie the yellow ribbon around the old oak tree”. Daai dag het ek die keuse gemaak om te vergewe. Daar was toe vir ons geel lintjies uitgedeel vir elkeen wat iemand vergewe het (myne hang nogsteeds in my kar as ‘n herhindering van my keuse). Daar kon ek vergewe en het ek my neef vrygespreek. Ek het hom vir Vader gegee om mee te werk, wat Hy wel gedoen het want drie jaar gelede kon ek my neef in die oë kyk. Dit wat hy gedoen het, het hom begin pla, en hy het my kom vra om hom te vergewe.

Vergifnis doen jy vir jouself. Jy verskoon nie die persoon se dade nie, maar as jy waarlik vry wil wees, moet jy vergewe en laat gaan.

Selfs toe Jesus op die kruis gehang het, het Hy die mense wat besig was om Sy klere op te veil, vergewe vir wat hulle besig was om te doen, want hulle het in werklikheid nie besef wat hulle besig was om te doen nie.

Lukas 23:34

“Daarop het Jesus gesê: ‘Vader, vergewe hulle want hulle besef nie wat hulle doen nie!’”

God het ons al ons oortredinge vergewe. Sy Seun het vir ons sondes gesterf, dis hoe groot God se genade en vergifnis is. Wie is ons om nie te wil vergewe nie?

En wanneer ons sukkel om te vergewe, of voel dat daar dinge is wat net ondraagbaar is om te vergewe – dinge wat net te seer gemaak het, het Hy vir ons die belofte dat Hy ons krag is en dan ons van Sy onuitputbare bron kan kom drink wanneer ons dit nodig het.

Markus 11:25

“Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teenoor wie julle ‘n grief het. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.”

Efesiërs 4:32

“Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.”

Kolossense 3:13

“Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het.”

Soms moet jy jouself ook vergewe. Selfverwyt omdat jy iets toegelaat het wat nie moes gebeur het nie, wat soms nie eens jou skuld was nie.

Ek onthou toe ek ouer was, het ek by my pa gelê. Hy was daai aand so dronk dat hy nie eens kan onthou wat hy wou doen nie. Toe my pa sê hy sal my nie swanger maak nie, nadat hy my begin soen het, het ek iewers krag vandaan gekry om op te staan en weg te stap. Vir jare het ek verskoning gesoek oor hoekom ek by hom gaan aanvaarding soek het daai aand. Ek het gewonder of dit my skuld was en die rede vir sy aksie was, maar dit was nie. En dit was nie my skuld nie. Daarvoor moes ek hom en ook myself vergewe.

 Nikki Tobias – Om te leer dat Hy my vergewe, gee my toestemming om myself te vergewe

Vergifnis is die moeite werd. Kan jy dit self regkry? Uit jou eie krag? Nee. Maar Vader sal jou help. Hy sal die pad na vryheid saam met jou stap. Jy sal dit nie alleen hoef te doen nie want dis Sy grootste begeerte – om jou vry te sien!

Vat vandag die sleutel en sluit jou tronk oop.

 

Deur: Jessica Venter