Wat is die lekkerste wanneer jy verjaar?

Dis mos om daai geskenkboksies oop te maak en dit wat biine-in is uit te haal en te bewonder. Dankbaar dat iemand soveel moeite net vir jou gedoen het.

Elkeen het in sy lewe sy eie boksies. Jy wil hê alles moet daarin pas volgens jou reëls en voorwaardes. En as dit nie pas nie, dan is ons maar versigtig, soms selfs bang. Dan meeste van die tyd, los ons dit, want hoe kan jy nou iets doen as dit nie in jou boksie pas nie?

Dit is soos wat jy grense vir jouself sal stel. Tot waar is jy bereid om te gaan voordat jy stop. Jou comfortzone. God vat ons baie kere buite ons comfortzone sodat ons kan groei. Met tyd, raak dit makliker om buite jou comfortzone op te tree en jy is nie meer skrikkerig nie.

“Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie, ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie, platgeslaan, maar nie vernietig nie.” – 2 Korintiêrs 4:8-9

God kan ook nie in ‘n boksie geplaas word nie. Hy is groter as ons boksies en Hy wil graag hê dat elkeen soms bietjie daai vrees, die bang wees, daai reëls wat jy vir jouself opgestel het, dat jy buite jou boksie sal dink en doen.

Voor Jesus se koms was daar al die wette wat mense moes gehoorsaam, anders word mens gestraf. Maar na Jesus se kruisiging en opstanding, het dit verander. God straf nie. Hy is ‘n God van liefde en genade. Hy wil nie hê ons moet meer so leef nie, daarom gee Hy ons meer vryheid, verbreed Hy ons boksies.

God wil hê jy moet die lewe geniet en nie volgens ‘n klomp reëls lewe nie. God kan ook pret hê. Hy sit nie daar bo en kyk af op ons en skud sy kop moedeloos as jy soms buite jou boks optree nie. Hy wil hê jy moet dit geniet en Hy wil dit saam met jou geniet.

“My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou oral waar jy gaan.” – Josua 1:9

Solank jy God het en Hom saam vat, kan niks verkeerd gaan nie. Laat Hy vir jou die leiding en wysheid gee vir wanneer jy buite jou boksie optree. Hy sal vinnig vir jou wys as dit verkeerd is, maar as Hy saam met jou die lewe aandurf en jy Sy stem volg, dan kan jy uit jou boksie klim en bietjie buite ronddwaal.

“Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle hart en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas.” – Filipense 4:6-7

Moet net nie jouself so beperk ter wille van iets of iemand anders nie. God het jou gemaak soos jy is en saam met Hom, kan jy voluit lewe.

Hou dus op om alles in jou boksies te druk. Al pas dit nie, jy kan die nie forseer nie, want dan sal jy dit breek. So sal jy ook breek as jy jouself in ‘n boksie forseer wat nie vir jou is gemaak of bedoel is nie.

Leef soms buite jou boksies, laat jou boksies flexible wees sodat dit bietjie meer spasie kan hê, makliker sy grense bietjie kan verskuif.

God is nie so streng met jou nie. Hoekom wil jy so streng wees met jouself?