“God het die mensewêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.” – Johannes 3:16-17

Hoekom sal God sy eie seun as offer gebruik om ons sondes weg te neem? Sal jy jou kind so offer? Vir ‘n sondige mensdom wat dit nie eens begryp of dit soms nie eens verdien nie?

Maar steeds het God dit gedoen want Hy het ons so lief en Hy wil hê ons moet die ewige lewe saam met Hom deurbring. Kon ons nie ander offers gegee het nie? Hoekom juis Jesus?

“Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig deur Jesus se liggaam wat eens en altyd vir ons geoffer is. Onder die ou verbond staan elke priester dag vir dag op diens en bring hy oor en oor dieselfde offers wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar ons Hoëpriester het vir die sondes net een offer vir alle tye gebring en daarna op die ereplek aan die regterhand van God gaan sit.” – Hebreërs 10:10-12

Onder die ou verbond het slegs die priesters offers gebring vir die volk se sondes. Keer op keer moes hulle die offers bring wat nie die sonde weg gevat het nie. Maar deur God se offer, Jesus, is daar nooit weer enige ander offer nodig nie. Met Sy dood aan die kruis, het Hy al ons sondes uit gevee en kan ons nou in ‘n verhouding met God staan. Ons kan self na God toe gaan. Die kruisdood het daai struikelblok vir ewig verwyder. Gaan met vrymoedigheid na God toe. Hy wag vir jou.

“Julle was eintlik dood omdat julle gesondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewendig gemaak toe Hy julle al julle sondes vergewe het. Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.” – Kolossense 2:13-14

Jesus het gekom om God se wil uit te voer. Deur die sondeval in die tuin het daar skeiding tussen mens en God ontstaan daarom het Jesus se kruisiging daai skeiding verwyder. Sonde lei tot die dood maar na die kruis, het dit ook verander. Jy kan nou die ewige lewe kies. Om vir altyd by Jesus te wees.

“Terwyl hulle besig was om te eet, neem Jesus brood en vra God se seën daarop. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: ‘Neem en eet dit. Dit is my liggaam.’ En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: ‘Drink almal daaruit, want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word.’” – Matteus 26:26-28

Jesus gebruik die nagmaal as ‘n voorbeeld van Sy kruisiging. Die brood verteenwoordig Sy liggaam wat gebreek is en die wyn is Sy bloed wat vir ons gevloei het.

Al die pyn en leiding sodat ons sondes vergewe kan word. Maar die beste nuus ooit is dat Hy na drie dae uit die dood opgestaan het. Op die manier het Hy die mag van die dood gebreek. Om te dink dat Jesus willens en wetens Homself so gegee het, om gekruisig te word, om met pyn aan die kruis te hang, om te sterf en weer op te staan, net omdat God ons so lief het dat Hy die grootste offer ooit gegee het. Sy eie Seun, Jesus Christus.

As mens paasfees in die winkels loop, wat sien mens? Paas eiers en paashase. Maar is dit waaroor paasfees gaan? Nee.

Ek het die oulike prentjie gesien waarop daar staan:

‘It’s not about the Bunny, it’s about the Lamb.’

Die eintlike rede vir paasfees gaan oor die Lam, Jesus. Hy het die grootste opoffering gegee. Net sodat die leeu en die lam in vrede kan leef en sodat God, drie-enig, verheerlik kan word. Deur Jesus se opoffering sal almal weet wie die Here is. En kan ons nou Koningskryk kinders wees. And that makes you royalty.

Dit gaan alles oor die Lam, die Kruis, God en ‘n sondelose toekoms. Alles omdat Jesus sy lewe vir ons opgeoffer het.

Jessica Venter is een van Love Decided se skrywers. Sy geniet dit om haar hart uit te stort en so dan die lewens aan te raak van die lesers. Deur haar verhouding met haar Hemelse Vader word sy versterk en is dit haar harts begeerte om Sy liefde en genade neer te pen vir diè wat Hom nog nie so ervaar het nie.